|
Argiewe
Dit word weer feestyd!
Gaan die tyd werklik so vinnig verby! Die volgende Dorslandtrek-gedenkfees word
beplan vir 22 tot 26 Augustus 2008. ‘n Uitgebreide Reëlingskomitee het op 14
April 2007 op Otjiwarongo vergader om die wiele aan die rol te kry vir die
80-jarige gedenkfees by die Okapuka-kampterrein naby Swartbooisdrif aan die
Kunene. Ons maak dit nou reeds bekend, sodat belangstellendes betyds reëlings
kan tref, want ons vertrou daar gaan weer ‘n groot opkoms wees.
Registrasievorms en kampreëlings sal weldra aan persone gepos word wie se name
en adresse ons het. Die registrasiefooi sal weer soos in die verlede bekend
gemaak word op die registrasievorm, maar dit sal waarskynlik dieselfde as in die
verlede wees toe dit N$150, 00 per persoon was. Skoolgaande kinders en persone
ouer as 80 jaar woon die kamp gratis by. Ander belangstellende persone kan ons
‘kantoor’ skakel vir die nodige vorms en inligting. In die verlede was staanplek
nogal ‘n probleem, omdat elkeen graag onder lekker koeltebome wou staan. Ons sal
probeer om die mense wat eerste bespreek en betaal, gunstige plekke aan te bied.
Die saak raak egter ingewikkeld wanneer groepe bymekaar wil staan. In sulke
gevalle moet die “leier” bereid wees om die groep saam met hom, se geld vooruit
te betaal en dit dan van sy mense te vorder. Dit sal egter raadsaam wees as
elkeen voorsiening maak vir ekstra skaduwee. Ander aspekte waarvan kennis geneem
moet word, sluit die volgende in:
4 x 4-toer na Angola:
Faan van der Merwe beplan om weer ‘n toergroep na Angola te lei na die fees.
Belangstellendes kan met die komitee skakel of direk met Faan by 067 – 242 548
op Grootfontein. Daar moet ook gemeld word dat daar tentatief reeds gedink word
aan ‘n toer vir Suid-Afrikaners na Angola in 2009. Dit het in die verlede geblyk
dat die toer wat voor die fees vanaf Rietfontein (Gobabis) onderneem is om
verskeie redes onprakties was en daarom word hierdie keer daarvan afgesien.
Mense moet kennis neem dat die bywoning van die fees en die toer na Angola twee
sake is. U moet vir ‘n staanplek by die fees registreer en apart met Faan v/d
Merwe kommunikeer as u Angola toe wil toer.
Aandenkings en ander items:
Inligting sal te gelegener tyd bekend gemaak word rakende aandenkings wat die
komitee by die fees beskikbaar gaan stel. Peet Harmse gaan dit koördineer. Op
grond van versoeke in die verlede, kan private persone / kampeerders ook
aandenkings of ander items soos boeke te koop aanbied of adverteer. Die versoek
is net dat sodanige persone asseblief vooraf met die komitee skakel oor sulke
items, ter wille van goeie koördinering. Daar sal ook verwag word dat u ‘n
gedeeltetjie van u wins aan die feeskomitee oorbetaal.
Van die verrigtinge gaan weer by die monument plaasvind waar ons graag nog ‘n
gedenkplaat wil onthul.
Restourasie van grafte en historiese plekke:
Familielede en belangstellendes het die komitee genader oor die verwaarloosde
graf van die trekleier, Gert Alberts, in Angola en ook die graf in Etosha. Ons
wil graag familielede aanmoedig om betrokke te raak by die restourasie van
sodanige grafte, omdat dit ongelukkig geld en moeite verg. Waar sodanige grafte
formeel as monumente aangedui word, soos in Etosha, is die komitee bereid om ‘n
fasiliteringsrol te speel. Daar moet, bv. met die betrokke ministerie geskakel
word oor sodanige planne en aksies. Kosteberamings moet gedoen word,
herstelaksies beplan word en uiteindelik sal uitgawes na die families toe
afgewentel word. Toevallig is daar reeds material geskenk wat vir die
Etosha-graf aangewend kan word. Baie dankie aan dr. Jannes Brandt, Jurie en Rita
se skoonseun. Betrokkenes kan die komitee skakel vir verdere onligting. Faan van
der Merwe het onderneem om met die Portugese owerhede te skakel oor sodanige
grafte in Angola. In dieselfde asem wil ons vir Faan bedank vir wat hy al in die
verband gedoen en onderneem het, hoofsaaklik op eie koste.
Addisionele akkommodasie:
Omdat so ‘n behoefte uitgespreek is, het die komitee met die bestuur van die
Kunene River Lodge geskakel oor ‘n moontlike blokbespreking vir ons ouer lede
wat nie wil of dalk kan kampeer nie. Die volgende inligting is deur die Lodge
aan ons verskaf:
Camping: N$ 80,00 / person / night
Bungalows: N$420,00 / person / night (including Bed and Breakfast)
Activity at Kunene
Sundowner/Birdwatching boat trip N$225,00 / person including
refreshments
Himba village visit N$150,00 / person
Quad bike Adventure: Witsand N$375,00 / person two hours
Rafting Adventure: Ondoruzu gorge N$375,00 / person
Erika Glück
Exclusive Reservations & Marketing
NTB. Reg. no: BOO00025 Tel: +264 61 237 294 Fax: +264 61 237 295
Email:
reservations@exclusive.com.na
Website: www.exclusive.com.na |
Dit is egter belangrik dat wanneer u staanplekke bespreek, u sal aandui
hoeveel persone betrokke is.
Ons beplan ook om weer vervoer vir sulke persone te reël vanaf Windhoek.
Verdere inligting hieroor sal mettertyd bekend gemaak word. Persone wat van
hierdie reëlings en geriewe gebruik wil maak, moet die komitee so gou as
moontlik in kennis stel, tesame met u persoonlike omstandighede waarvoor
moontlik voorsiening gemaak moet word.
VERSOEKE
- Ten einde ons in staat te stel om so wyd as moontlik te kommunikeer,
word almal wat met ons skakel versoek om ‘n e-posadres te voorsien. Vriende
uit Suid-Afrika word versoek om moontlik ‘n gefrankeerde koevert met ‘n
RSA-seël te stuur.
- Mense wat geld elektronies inbetaal, moet deeglik kennis neem dat die strokie
ook gefaks moet word, sodat die inbetaling gekontroleer kan word. Allison du
Plessis het ook aangebied om met behulp van ander lede ‘n
geldinsamelings-veldtog te loots. U word versoek om waar moontlik behulpsaam te
wees.
- As daar mense is wat hulp wil aanbied met die reëlings van die fees, sal ons
dit baie verwelkom. Maak asseblief kontak met enige persoon op die adreslys wat
ons vir u voorsien.
- Henry Engelbrecht van Pretoria soek ‘n ossewa of iemand wat bereid is om ‘n
wa te bou. Hy wil dit by ‘n onderneming in Namibië aanwend. Sy nommer is
0832734478.
- As daar van u is wat nuwe inisiatiewe het vir die 2008-fees, moet u nie
huiwer om met ons te skakel nie.
ERKENNING
Die Komitee wil sy dank uitspreek teenoor die volgende mense:
- Hentie Henning wat vir ons sink geskenk het om die skuur op ons terrein
se dak op te sit. ‘n Woord van dank aan Basie Prinsloo wat die sink sal
vervoer.
- Cornelius MacDonald wat vir ons 200 sakke sement geskenk het en wat
onderneem het om die tweede struktuur by die Dorsland-monument op te rig.
- Daantjie van Vuuren en Dries Horn wat aangebied word om met die owerhede
in daardie area te onderhandel, sodat ons ons fees suksesvol kan aanbied.
- Quinten en Stienie van Rooyen wat vir ons ‘n mooi bord gaan borg wat ons
daarbo gaan oprig om die monument en die drif aan te dui.
- Al die Komiteelede wat hulle tot sekere take verbind het.
DIE WERKSKOMITEE
Die volgende persone het die vergadering van 14 April op Otjiwarongo bygewoon.
U kan met enige persoon skakel om meer inligting te bekom. Ander mense wat wil
hulp aanbied, sal ons taak verlig.
|
Boet Greeff |
067-234670 |
|
Posbus 311, Otavi |
|
Marthie Greeff |
|
|
|
|
Andries Horn |
067-222739 |
|
Posbus 732, Tsumeb |
|
Johanna Horn |
|
|
|
|
Jan Duvenhage |
064-504073 |
|
Posbus 12, Uis |
|
Martie Duvenhage |
|
|
|
|
Faan v.d. Merwe |
067-242584 |
|
Posbus 89,
Grootfontein |
|
Danie v.d. Merwe |
0811289822 |
ddvdm@iway.na |
Posbus
1458,Grootfontein |
|
Cornelius M McDonald |
0811286422 |
martiemcd@anansi.co.za |
Posbus 43, Usakos |
|
Martie McDonald |
|
|
|
|
Willie Grobler |
067-304559 |
namv@mweb.com.na |
Posbus 2034,
Otjiwarongo |
|
Franci Grobler |
|
|
|
|
M Prinsloo |
067-234330
0812537325 |
|
Posbus 337, Otavi |
|
Jurie Viljoen |
0812768478
061-229931 |
juriev@iway.na |
Posbus 24843,
Windhoek |
|
Rita Viljoen
|
0812768478
061-229931 |
juriev@iway.na |
Posbus 24843,
Windhoek |
|
Lourens en Alison du
Plessis |
067-312148
0812431584 |
pader@iway.na |
Posbus 146, Outjo |
|
Polla Steyn |
061-241043
0811299061 |
pssteyn@iway.na |
Posbus 21994,
Windhoek |
|
Johanna Saunderson |
0812774933 |
Jsaunderson@fnbnamibia.com.na
|
Posbus 100,
Otjiwarongo |
|
Callie Opperman |
0811278238 |
callie.opperman@iway.na |
Posbus 30115,
Windhoek |
|
Carel en Susan
Thomas |
061-252390 |
|
Posbus 80421,
Windhoek |
|
Kotie le Grange |
062-564774
0813328696 |
|
Posbus 174, Gobabis |
|
Peet Harmse |
062-501835
0811272015 |
harmse@mweb.com.na |
Okahandja |
†DORSLANDTREK-KIND STERF OP 100-JARIGE OUDERDOM
In die laaste dekade het afstammelinge van die Dorslandtrekkers verskeie kere
by Swartbooisdrif op die walle van die Kunene-rivier in die verre noorde van
Namibië byeengekom om die koms van die Angola-Boere na die destydse
Suidwes-Afrika in 1928, feestelik te gedenk. Feesgangers het vanuit Namibië,
Suid-Afrika en Botswana opgetrek na die byeenkomste. Die verrigtinge is
gewoonlik in die media gedek en ‘n insiggewende dokumentêre TV-program is in
2001 vervaardig oor die trekroete wat met 4x4-voertuie gery is.
Dit is te betwyfel of daar vandag nog kinders van die oorspronklike
Dorlandtrekkers lewe. Van die laaste oorlewendes was mevrou Hester Alberts, wat
op 27 Maart vanjaar in die ouderdom van 100 jaar en 5 maande te Potchefstroom
oorlede is.
Tant Hester, soos sy algemeen bekend was, is op 3 Oktober 1906 op Humpata in
Angola gebore as een van 10 kinders van die Dorslandtrekkers, Johannes Petrus
Venter en Marie Aletta Venter (gebore Botha). Tant Hester is in Augustus 1924
getroud met Jacobus Johannes Alberts, ‘n kleinseun van die Dorslandtrekleier,
Gert Alberts, en seun van Andries Alberts wat ‘n leidende rol gespeel het in die
onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse Regering om die Angola-Boere na bykans
50 jaar in die vreemde in Suidwes-Afrika (Namibië) te hervestig. Ses seuns is
uit die huwelik gebore waarvan twee vroeg oorlede is. Haar man het haar in 1987
ontval.
Soos ons almal weet, is daar na lang onderhandelinge met Genl Hertzog, Eerste
Minister van Suid-Afrika, mnr Piet Grobler, Minister van Lande en mnr A J Werth,
Administrateur van Suidwes, tot ‘n vergelyk gekom en het die Angola-Boere Angola
in Augustus 1928 verlaat en na Suidwes verhuis. Die eerste wa wat die môre van
22 Augustus 1928 by Swartbooisdrif die Kunene-rivier oorgesteek het, was dié van
oom Michiel van der Merwe en sy vrou, die beminlike tant Tui en hulle kinders.
Daarna het nog 4 families deurgetrek en die eerste trekgroep het voet aan wal
gesit in hulle nuwe vaderland. Met gereelde tussenposes van 5 of 6 dae, het die
ander groepe gevolg tot die 65ste groep op 27 Februarie 1929 Angola finaal
verlaat en die ongeveer 2 500 mense hulle in ‘n nuwe vaderland hervestig het.
Koos en Hester Alberts was met hulle driejarige tweeling seuntjies een van
die gesinne wat in 1928 hul nuwe vaderland betrek het.
Die Angola-Boere is aanvanklik in kampe gehuisves, waarna hulle van geldelike
voorskotte voorsien is en grond ontvang het waarop hulle ‘n bestaan moes maak.
Nadat hulle aanvanklik in 1928 in die oorstaan-kamp naby Outjo gebly het, het
tant Hester en oom Koos op verskeie plekke in die destydse Suidwes-Afrika gewoon,
omdat die eerste tien jaar in Suidwes vir alle Angola-intrekkers baie moeilik
was. Uiteindelik het hulle gevestig geraak op die plaas Elandsweide naby die
Waterberg, noord-oos van Otjiwarongo. Later het hulle hierdie plaas verkoop en
die plaas Kanona naby Omaruru gekoop, waar hulle gewoon het totdat oom Koos nie
meer kon boer nie. Daarna het hulle na Suid-Afrika verhuis en het hulle op
Prieska en Fochville gewoon, voordat albei na ‘n aftree-oord in Pretoria getrek
het, waar oom Koos in 1987 oorlede is. Tant Hester het gedurende 2005 na die
ouetehuis in Potchefstroom verhuis, waar sy op 3 Oktober 2006 haar honderdste
verjaarsdag gevier het.
Tant Hester word oorleef deur haar vier seuns, mnr Johannes Alberts wat ook
in die tehuis in Potchefstroom woon, mnr Koos Alberts van Potchefstroom, dr
Andrew Alberts woonagtig in die Strand en mnr Marius Alberts van Gobabis,
Namibië. Benewens die 4 seuns en 3 skoondogters, is daar 11 kleinkinders en 24
agterkleinkinders.
Bydrae: Dr Andrew Alberts
‘n Merkwaardige man
Michael Wilhelm Prinsloo (Giel Prens) was die seun van George Diederik
Prinsloo, landdros in ‘die groot Dorslandtrek’ en ‘n regstreekse afstammeling
van die ‘durf-en-daad’ Prinsloos van Slagtersnek. Hy het as jong man aan die
Dorslandtrek van 1877 – 81 deelgeneem en in 1884 saam met ‘n aantal trekkers
teruggetrek tot in Suidwes (Damaraland) en daarvandaan later saam met enkele
trekkers deur die woestyn terug tot in Transvaal. In 1892 is hy weer saam met ‘n
nuwe trek noordwaarts deur die woestyn, by die N’Gami-meer verby, langs die
Kavango verder, by die Etosha-pan langs tot in Angola! In totaal het hy dus ‘n
afstand van tussen nege en tien duisend kilometer afgelê!
Op ‘n vraag van dr. Albert Coetzee, eertydse onderwyser vir die
Dorslandkinders in die vroeë 1920’s, waar hy woon, het Oom Giel Prens met ‘n
ondeunde kyk in sy oë en terwyl hy met sy sambok suid-oos beduie, geantwoord dat
hy nog nie ‘woon’ nie, maar dat hy ‘daar anderkant die koppetjie bly’. Dan gaan
dr. Coetzee voort: ‘Sy graf in Angola is een van die bakens op die voorpos van
die beskawing vir die vestiging en uitbreiding waarvan ‘n nuwe nasie deur die
Allerhoogste geskep is – die Afrikanernasie.”
Die trekkerbloed het dik in Oom Giel se are gevloei. So het hy aan dr.
Coetzee bevestig dat hy nog graag noordwaarts tot in ‘Egipte’ met sy ossewa sou
wou trek, maar dat die vlieë (tsetse-vlieë) dit onmoontlik maak. Verskeie
staaltjies was dan ook oor hierdie merkwaardige mens in omloop. So het hy ‘n
leeu, wat besig was om aan een van sy osse te vreet, van so naby geskiet dat hy
die voorpunt van sy geweerloop as’t ware teen die leeu se lyf gedruk het toe hy
die skoot afgetrek het. Kort nadat hulle oor die Kunene in Angola ingetrek het,
het hy met sy gesoute perd vingeralleen ‘n opstandige inboorlingstat ingeneem
deur die perd dwarsoor die heining te laat spring. Die inboorlinge was so
verskrik dat hulle onmiddellik op die vlug geslaan het! En in sy ouderdom moes
hy op ‘n donkie ry omdat perde nie in Angola geaard het nie.
Soos hier bo gemeld, is hy saam met ander trekkers in 1884 terug Suidwes toe.
In Damaraland het die inboorling vir Roelf du Toit vermoor en daarna Giel se
vader se bees gesteel. Giel, Dolf Holtzhausen en ‘n paar seuns het in die
maanlig die platgetrapte gras gevolg waaroor die vee aangejaag is. Teen ‘n rant
het hulle die vure van die rowers gewaar en uiteindelik het Giel alleen nader
gegaan en die rowers bekruip tot teen ‘n rots vlak by een van die vure. Van daar
het hy aangelê op die kaptein, geklee in die vermoorde Roelf du Toit se klere,
waar hy sy hande oor die vuur staan en warm maak het. Giel het hom geskiet dat
hy vooroor in die vuur val. Soos afgespreek, het die ander drie wild begin skiet
asof hulle ‘n hele kommando is. Die rowers het gevlug en die beeste, behalwe die
een wat geslag is, is teruggeneem na die laers.
Giel Prinsloo was inderdaad ‘n mens wie se nagedagtenis gehuldig moet word.
Met erkenning aan dr. J. Albert Coetzee.
‘n De Lux-model Ossewa
Een van die gesinne wat die eerste Dorslandtrek meegemaak het, was dié van
die oue heer Johannes Marthinus van der Merwe (Oom Hans), ‘n Voortrekker uit die
Kaapkolonie. Hy was ryk en kon ‘n rustige lewe op sy plaas, Rusfontein, in die
distrik Pretoria ly. Maar in die binneste van hierdie twee-en-tagtig jarige ou
trekker en sy groep was daar ‘n onweerstaanbare verlange om te trek, in hul are
het die trekkerbloed verlang na die rustelose van so ‘n beweging. Hulle het maar
eenvoudig beantwoord aan die eerste bestemming van die nasie – om Afrika te
bewoon’.
Oom Hans het sy lang tentwa gerieflik ingerig met ruitvensters aan weerskante,
plankdeure voor en agter in plaas van seildoeklappe en in die tent ‘n stoof,
waarop die kos in die ry gekook kon word. Hiervoor het hy spesiaal ‘n jong ‘grootmaakskepsel’,
Paadji Rol, saamgeneem, wat later in Angola beroemd geword het as kok vir die
besoekende predikante. Oom Hans van der Merwe is in die ouderdom van 92 jaar in
Angola oorlede. Paadjie Rol is in Januarie 1924 oorlede, ook op Humpata.
Met erkenning aan dr. J. Albert Coetzee.
Die Skoot in die Nag – ‘n Groot Storie!
Aan die begin van die vorige eeu was oom Gielie ‘n transportryer in die
noordweste van Angola. Hy het een aand diep ingedagte op die voorkis van sy wa
gesit. Die lug was bewolk en sonder enige maanlig of sterlig, was dit baie
donker. Die wa het baie stadig beweeg in die rigting waar hulle hul reisgenote
moes ontmoet.
Skielik is hy bewus van ‘n onrus onder die osse. Die touleier, Vittorio, roep
in sy moedertaal, Chimbundu, na agter: “Oubaas moet kom kyk, hier is groot fout
by die osse!”
Oom Gielie spring met die gelaaide Martini-Henri in sy hand van die wa-kis af.
Hy roep na Dumbu om die briek aan te draai en te kom help. Gelukkig het oom
Gielie ‘n dosie vuurhoutjies in sy sak en met die eerste vuurhoutjie-liggie kry
hy ‘n groot skok! ‘n Yslike groot leeumannetjie het virBlokland, die
staatmaker-os hot op ses, aan die bek en neus beet en skuifel saam soos die span
osse beweeg.
Dumbu trek nog ‘n vuurhoutjie en oom Gielie voel met die een hand presies
waar die oor van die leeu is. Met versigtige berekening van die rigting waarin
die koeël gaan trek, druk hy die geweerloop in die leeu se oor en trek die skoot
af. Die leeu gee ‘n laaste roggel en los die os se bek. Die touleier het al sy
moeite om die osse, nou baie onrustig weens die geweerskoot en die leeureuk,
weer tot bedaring te bring.
Dumbu en Vittorio sleep die leeu na die agterkant van die wa en help oom
Gielie om dit met ‘n groot gesukkel agter op die wa te laai. Die reis word
hervat na waar die twee reismaats reeds wag.
Met groot verligting sien hulle later die vuur by die ander uitspanning.
Salmon en Koos wil dadelik weet van die skoot wat hulle gehoor het en word die
leeu agter op die wa gewys. Daar word uitgespan en die osse se rieme word aan
die jukke vasgemaak. By die lig van ‘n groot stuk brandende hout sien hulle dat
die beserings aan Blokland se neus en bek gelukkig nie baie erg is nie.
Met eerste lig slag Dumbu en Vittorio die leeu af en sout die vel. Nou kan
oom Gielie sien hoe maer die leeu en stomp sy tande is. Hulle besef dat dit ‘n
ou leeu was wat waarskynlik deur ‘n jong, sterk mannetjie uit die trop verdryf
is. Die arme dier was waarskynlik desperaat van die honger en ‘n os in ‘n
stadig-bewegende span was die ideale prooi.
Met erkenning aan: Lenie du Plessis
*01.01.1929
†31.07.2004
Verhaal opgeteken in 2002.
Eerste keer verskyn in “Little Texas”, Gobabis
ARGIEFNAVORSING
‘n Onbekende persoon, wat later ‘n vriend geword het, het eendag vir my ‘n
e-pos uit Pretoria gestuur. Hy het in die Nasionale Argief twee interessante
lêers raakgeloop. Die lêers is onder die korrespondensie van Buitelandse Sake
(BTS) en handel oor die volgende aspekte:
BTS 86/7/1 Settlement of Angola farmers in South-West Africa: 1928 -1965
BTS 86/7/1/1 Assistance to Angola Farmers: 1955 – 1959
BTS 86/7/1/1 Angola Farmers Festival at Humpata: 1957 – 1958
Toe ek onlangs in Pretoria was, het ek hierdie lêers opgespoor en dit baie
interessant gevind. Ek noem dit omdat daar dalk mense is wat eendag hierdie
geskiedenis wil navors. Interessanthede wat ek raakgeloop het, is onder andere
die volgende:
1. Gesinne in Angola: Mnr Alfred Meyer, wat die S.A. konsul in Angola
was, rappor-teer dat die verspreiding van die mense voor hulle terugkeer in 1929
soos volg was:
- Die Sandveld (Ochinjao – krokomokukma) 80 gesinne
- Humpata (Palanca-Vaalkop) 100 gesinne
- Cubal (Hanja – Hoëveld) 20 gesinne
- Que (Kee) Calugnambe 50 gesinne
- Zepi (Huambo, Cahala, Longonjo, Cuando 30 gesinne
- Mombolo (Namba, Cuimbira, Dumbie 60 gesinne
- Libolo (Bailundo, Kasulo) 10 gesinne
- Chinguar (Sacanjimba) 20 gesinne
- Kasai (Diamantveld) 15 gesinne
- Verspreidwonendes 50 gesinne
Totaal 435 gesinne
2. Die Afrikaners was onwelkom in Suidwes Afrika
In sy boekie het mnr E T Meyer volledig aangedui dat die Angola-boere in
1928/1929 onwelkom was in Suidwes Afrika. Dit is interessant dat, ten spyte van
die aandrang van Administrateur Werth dat die Angola-boere ook deur die
Wetgewende Vergadering van Suidwes Afrika gehelp moet word, het hulle die geld,
£50 000, by monde van die Voorsitter, Mnr Albert Voigts, afgekeur. Daar is
aangedring dat as die Angola-boere sou inkom, daar ook 50 Duitse gesinne
ingevoer moet word. Op sigself was dit seker nie verkeerd dat Duitse gesinne
toegelaat word nie, maar dit was na die Eerste Wêreld-oorlog en was daar nog
steeds spanning tussen Suid-Afrika en Duitsland.
3. Die fees in Humpata
Van 4 - 8 Julie 1957 was daar ‘n herdenkingsfees in Humpata. Dit is bygewoon
deur 250 Afrikaners en 200 Portugese. Verskeie eredienste is gehou en al die
begraafplase is besoek. Die amptelike opening is waargeneem deur die Voorsitter,
mnr Georg van der Smit. Tydens hierdie geleentheid is die monument aan die
Portugese Regering oorhandig. Al die dokumentasie is agter die steen wat daarin
aangebring is, toegemessel.
Bydrae: Jurie Viljoen
|