Skakels - [ Tuisblad ]  [ Kennisgewing ] [ Korrespondensie ] [ Naamlys ] [ Kontak Inligting ] [ Argief ]
Kennisgewing

INLIGTINGSBRIEF/1/2007


DORSLANDTREK GEDENKFEES 2008

  1. Die Dorslandfees word beplan vir volgende jaar 22 – 26 Augustus 2008 by ons plek aan die Kunènè-rivier.
  2. Die roete van Ondangwa na die noorde en die lyk as volg.
    Windhoek – Tsumeb 420 km;
    Tsumeb- Ondangua 250 km
    Ondangua – Ruacana 230 km.
    Daar is gewoonlik baie diere op hierdie pad omdat dit kommunale gebied is.
    Ruacana weswaarts met die rivier af is 45 km tot by die kampplek.
    Die teerpad oor Kamanjab na Ruacana sal ook teen daardie tyd klaar wees.
    Ons het nog nie die presiese afstand van hierdie pad nie maar daar kan met veiligheid gewerk word op 800 km van Windhoek.
  3. Ons sal weer vertoë rig dat die pad tussen Ruacana en Swartbooisdrif geskraap word. Dit is toeganklik met ‘n sedan motor en mense sleep ook karavane. Sommige slote is redelik diep, sodat daar versigtig gery moet word. Daar is ook baie kinders wat langs die pad wag vir ‘n meevallertjie.
  4. Die volgende is bekikbaar by die kampterrein:
    •  Ons het ablusieblokke met storte en toilette. Weens die groot aantal mense wat gewoonlik gedurende dieselfde tyd wil stort is warm water soms ‘n probleem. Ons probeer om die geriewe sindelik te hou maar daar is soms krane wat lek of water wat iewers loop waar dit nie moet loop nie.
    • Daar is ook veldtoilette.
    • Daar is nie elektrisiteit nie; kragopwekkers is verbode.
    • Mense bring hulle eie kos saam asook drinkwater. By die lodge is egter ook etes te koop as u vooraf reel. Daar is gewoonlik drinkwater en bier te koop. Ons weet dat dit ‘n onbegonne taak is om noual te bepaal wie etes wil neem by die lodge maar ons gaan ‘n poging aanwend om ‘n beplanning te doen. U word dus versoek om ‘n aanduiding te gee op die registrasievorm.
  5. Wanneer u arriveer moet u by die groot tent aanmeld om ‘n kampplek te kry. Die kampplek sal gemerk wees en elkeen moet so bedagsaam as moontlik wees om slegs die nodige spasie te beset. Daar is nie genoeg bome om vir elkeen ‘n boom te voorsien nie en dus is dit raadsaam om u eie kazebu of afdak saam te bring.
  6. Dit is belangrik om te weet dat die registrasiegeld en donasies vir die instandhouding van die fees gebruik word. Dit beteken dat almal by registrasie moet betaal al bly u ook elders.
  7. Omdat ons die terrein huur by die plaaslike Ovahimba’s is daar sekere punte wat nagekom moet word.
    • By aankoms moet die motors se registrasienommers neergeskryf word en u ontvang ‘n toegangsplakker.
    • Geen takke mag van bome afgekap word nie. Boetes word gehef omdat sekere bome soos die Anabome ‘n religieuse waarde het. Dit sluit ook verlate “houtpondokkies”/droppers in. U moet egter ‘n hark en graaf saambring vir u eie gerief.
    • Niemand mag in die rivier swem nie omdat daar talle krokodille is. Enige voorval gaan ‘n demper plaas op ons feesverrigtinge.
    • Brandhout sal deur die plaaslike mense verkoop word.
    • Aandenkings sal te koop wees.
    • Noodhulp sal beskikbaar wees.
  8. U word versoek om sover moontlik ons van e-pos adresse te voorsien. Dit is baie duur om briewe per landpos te stuur.
  9. Bring jukskeie, balle en wat u beskikbaar het.
  10. Daar sal op 26 Augustus ‘n toer na Angola wees; die toer sal gelei word deur Faan v.d. Merwe en sal waarskynlik Humpata, Mombolo en ander plekke insluit. Die koste, afgesien van u eie koste is N$ 500 per motor. U moet egter met Faan self kontak:
    Posbus 89 Grootfontein;
    Tel: 067-242584,
    ddvdm@iway.na

    Die beste tyd om Faan te kontak is oor naweke.
  11. Die lodge waar ons kamp sal ook ontbyt en aandetes voorsien as daar vooraf met hulle gereël word. U word versoek om op die vorm in te vul of u daarin sou belang stel. Die eienaar wil graag sy beplanning doen.

Jurie Viljoen
Voorsitter: Dorslandtrek Komitee
 

Skakels - [ Tuisblad ]  [ Kennisgewing ] [ Korrespondensie ] [ Naamlys ] [ Kontak Inligting ] [ Argief ]

Bladsye ontwerp deur Danie van der Merwe