Leopold Scholtz.
Beeld: Jul 08 2009 06:48:33:933PM - (SA)
9 Julie ’09 is dit 500 jaar gelede dat Jean Cauvin in die Noord-Franse stadjie Noyon gebore is. Onder die naam Johannes Calvyn sou hy groot invloed op die Europese (en Suid-Afrikaanse) kerklike, politieke en sosiaal-ekonomiese geskiedenis uitoefen, skryf
Waarom aandag vra vir Calvyn in ’n tyd wat soveel van syne verskil?
Want Calvyn het sekere idees oor die ekonomie gehad wat relevant vir die hede kan wees, veral noudat die wêreld te make het met die ergste ekonomiese krisis sedert 1929.
Sedert die Duitse sosioloog Max Weber se omvattende studie van 1904 glo baie mense Calvyn het sekere waardes – harde werk, spaarsamigheid en verstandige beleggings – gevestig wat vir die groei van die kapitalisme in Europa verantwoordelik was.
Weber het veral verwys na die ekonomiese opbloei van die Nederlande in die 16de en 17de eeu as die resultaat van die Calvinisme.
Dié mening word toenemend as verouderd beskou. Die kapitalisme, sê heelparty ekonomiese historici deesdae, het in die Middeleeue in Italië ontstaan, en dis daar dat die eerste golf welvaart die res van Europa begin aansteek het.
Nee, Calvyn se waarde lê op ’n ander terrein: Dit is om die gierige groot kapitaliste wat grotendeels vir die huidige krisis verantwoordelik is, aan te spreek.
Calvyn het die wêreld uiteraard primêr vanuit ’n teologiese perspektief bekyk. Sy basiese uitgangspunt was dat die ganse skepping ’n geskenk van God is, dat die mens die rentmeester daarvan is en dat hy dus aan God verantwoording moet doen.
Die mens se ganse optrede, met inbegrip van sy ekonomiese lewe, moet dus in die teken staan van moraliteit en diensbaarheid aan sy medemens.
Calvyn het niks teen wins gehad nie; inteendeel. Dis waar, het hy aan ’n vriend geskryf, dat geld op sigself steriel is – maar so ook ’n huis se die mure en dak, en dié kan wel vir ’n goeie doel gebruik word. Dit geld ook die vra van rente.
Sommige van sy tydgenote se mening dat rente iets boos is, het hy dus verwerp. Hy het dit vergelyk met aptekersgif, wat in beperkte mate goed kan wees, maar te veel daarvan is dodelik. Die hef van buitensporige rente is dus verkeerd, en die hef van rente vir armes was vir hom totaal uit die bose.
Hiermee het Calvyn die weg geopen vir ’n gesonde ekonomiese ontwikkeling. Maar dit het nie van hom ’n kapitalis gemaak nie; inteendeel.
Hy was krities oor mense wat pryse opdryf. Markte is ’n gawe van God, het hy gemeen, ’n plek waar mense met verskillende gawes bymekaar kom om mekaar te dien.
Die markekonomie is daarmee primêr ’n “uitdrukking van solidariteit tussen mense”, geen plek om bloot jouself te verryk nie. Natuurlik moet daar wins gemaak word. Maar dis ’n sekondêre oogmerk, nie die primêre doel nie.
Teen dié agtergrond verkry dié woorde van die Nederlandse Calvinistiese ekonoom prof. Bob Goudzwaard interessante betekenis: “Kapitalisme en communisme zijn broeders die in haat en nijd met elkaar leven.”
Albei benaderings – altans as hulle rigied-ideologies benader word – lei na die afgrond. Gebruik maar net jou gesonde verstand en moenie jou deur enige ideologie laat lei nie.
Idees dalk nou relevant
Het Calvyn iets vir die teenswoordige wêreld te sê? Natuurlik het die wêreld én die ekonomie ingewikkelder geword as in die 16de eeu. Jy kan dus nie gedetailleerde ekonomiese voorskrifte uit Calvyn se geskrifte probeer ontgin nie. Tog is die algemene vertrekpunte waarop hy sy idees gefrond het relevant.
Van belang is Calvyn se klem op onderlinge menslike solidariteit en diensbaarheid.
Die huidige krisis is grotendeels veroorsaak deur superryk kapitaliste wat geen snars vir die algemene belang of selfs dié van hul maatskappy omgegee het nie, slegs vir hul eie bankrekenings.
Wins was die uitsluitlike doel. Diens was glad nie op die radarskerm nie.
Soos Calvyn gesê het, wins is geen vloekwoord nie. Die vraag is met watter oogmerk die wins gemaak word. Wat is die morele inhoud daar agter?
Laat ons eerlik wees: By talle moderne ondernemings is daar slegs ’n morele vakuum agter al die glans, uitbreidingsplanne en yslike winste.
Effens minder wins is geen vloekwoord nie, veral as jy kan verseker dat jy nie mense hoef af te dank wanneer dit minder goed gaan nie.
En as jy weet dat jou produkte nie slegs in ’n materialistiese behoefte voorsien nie, maar help om die wêreld ’n effens beter plek te maak.
Is dit vergesog om te vermoed die wêreld sou tans geen of nouliks ’n ekonomiese krisis ondervind het indien die gees van Calvyn se houding die algemene rigsnoer was?
Dis nie eens noodwendig ’n keuse tussen wins en diens nie. Deur beter diens kan jy selfs jou wins verhoog.
Uiteindelik beland ons almal onder die kluite. Nie almal glo dat ons dan verantwoording moet gaan doen nie. Dié wat dit wel glo, het ’n kragtige rede om goed om te gaan met dit wat aan hulle toevertrou is.
Dié wat anders dink, moet weet hulle laat ’n erfenis na.
Die finale toetssteen is die vraag: Het ek die wêreld agtergelaat as ’n plek wat effens beter is as wat hy sonder my bydrae sou wees?
Dis nie net ’n Calvinistiese vraag nie.
Dis ’n baie nugtere en praktiese vraag.
Geplaas op versoek van Dr. Callie Opperman
