Kosie se getuienis.

Oor Getuienisse en Biografieë
Almal van ons het al kennis gemaak met getuienisse en biografieë. Getuienisse tussen ons gelowiges behoort van Jesus te wees en Hom duideliker te maak. Ongelukkig het dit meer kere 'n "bieg jy of brag jy" karakter. Biografieë weer, neig om mense te eer en gaan dikwels te vêr. Veral in ons tyd van idealisering van mense kan biografieë, van selfs iemand soos Dietrich Bonhoeffer, eer so bring dat dit amper begin teenspreek waarvoor die geerde gestaan het.
Met die moeilikheid van hierdie soort van ding beweeg mens dus op dun ys. Almal het egter al 'n "biografie" van Jesus gelees of ten minste gehoor. Dit is mos wat die Evangelies is. Hoewel uit 4 hoeke gesien, klink dit tog vêr. Dit speel af in 'n tyd en kultuur wat ons maar sukkel om lekker agtermekaar in die kop te kry.
Dit voel my soms, ons is fluks om juis agter hierdie "vêrte", versigtig 'n rat voor ons oë te draai en telkens die lesse te hoor, maar dit vêrlangs te hou en nie regtig in te koop in die boodskap nie. Dan gebeur daar iets of iemand en iets daarvan word duidelik.
Kosie word gebore:
So gebeur dit toe met ons op 5 April 1990. 'n Seun word vir ons gebore, so half teen die beplanning en voorsorg in. Hier kry ons 'n baba wat teen ons ervaring met ons ander twee, ons nie 'n nag wakker hou nie. Hy slaap so baie dat ons telkens 'n veertjie of papiertjie voor sy neus moet hou om te sien of hy darem nog asemhaal.
Toe hy begin mens word is hy die ene drukkies en soentjies en dierbaarheid en net hier begin dinge.
In die genoemde biografieë, die evangelies, lees ons hoe Jesus dinge leer en self doen:
Tyd, vriendelikheid, omgee:
Ons lees hoe hy tyd gehad het. Soos vir die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het. Onthou, die een wat aan sy kleed geraak het en gesond geword het. Ons lees dat Jesus te midde van die haas en nood waarheen Hy oppad is, eers gaan stilstaan, tyd gee en die vrou se storie hoor. "Is dit nie vriendelik van Hom gewees nie?" skryf Max Lucado.
Daar is nog voorbeelde: Die slegte Samaritaanse vrou by die put, die verlamde wat nie hulp kon kry om hom in die bad te kry nie.
Ons lees hoe Jesus so omgegee het, saamgevoel het, dat hy selfs gehuil het met Lasarus se dood. Ons sien hoe hy hom ontferm oor blindes, kreupeles en uitgeworpenes soos Sageus die tollenaar en die owerspelige vrou.
Ons hoor hoe Hy leer dat ons moet omgee, in die storie van die barmhartige samaritaan, in Mat. 25, waar Hy sê dat in sovêr ons dit aan geringes doen ons dit aan Hom doen.
Duidelike voorbeeld en boodskap nê. Tog vêr en vreemd. Hoe vreemd is tollenaars, samaritane priesters, leviete ens.
Hier kom wys Kosie ons en ons het hom dit nie geleer nie, nie eers 'n waardige voorbeeld gestel in die verband nie. O ja miskien nog voor ons kinders, maar sê Jesus, daarin is ons niks beter as ongelowiges nie. Hulle doen dit ook. Nietemin uit sy kop uit kom doen Kosie juis dit.
As Fransa hom kleintyd in 'n winkelwaentjie stoot, val hy amper uit soos hy drukkies uitdeel, sonder aansien des persoons en vels. So hou hy aan tot in sy tienerfase aan die einde van sy kort lewe. Oom Len Kloot getuig as gevolg hiervan dat hy Kosie net een keer ontmoet en hy het sy hart geraak: "I met him once, and he touched me"
Op 'n keer is die Tukkie koor by ons op toer onder leiding van Prof. Petri Grabe, wat toe by ons tuisgaan. Tydens 'n ete, waarby klomp van die familie en vriende by is, merk Kosie, toe net drie jaar, dat die Prof na die tamatiesous bottel kyk, maar nie kans kry om daarvoor te vra nie. Hy klim terstond op die tafel en gaan haal die tamatiesous bottel vir die Prof. Die Prof is uiteindelik ook saam met ons Etosha toe en toe hy groet getuig hy juis hieroor: Julle het 'n besonderse kind hier. Moet dit nooit vergeet nie.
Voetewas:
In ons gesin is daar 'n afsku in inkopies doen, al is dit net om ma te ondersteun met hierdie werkie. Maak egter nie saak hoe lekker hy met maats speel en kuier nie, selfs as 'n tiener, sou sy ma hom nooit hoef te smeek om haar hiermee te help nie.
Van die kinders om hom en hul ouers getuig dat hy dit vir hulle moontlik gemaak het om aan te pas in die skool vêr van die huis af. Hy het groot moeite gedoen om juis die ongewildes, uitgeworpenes en die wat hartseer is, gemaklik en beter te laat voel. Hoewel hy goed kon onderskei en aandui welke gedrag van sy maats en ander kinders ongehoorsaam is, het hy homself weerhou om te oordeel of te veroordeel en juis daarom was hy ondersteuning en goeie invloed vir gewild en ongewild.
Uit sy kop uit, kom wys hy ons al die tyd wat Jesus bedoel. Sommer hier naby ons, aan eie lyf, bring hy Jesus se boodskap so ongemerk in ons gesin, familie, sy skool en gemeenskap in, dat ons dit eintlik nie eers merk nie.
Terug na Jesus - Voorbidding:
Jesus leer ons hoe om te bid en self stel Hy die voorbeeld wat ons in Joh. 17 het. Kosie was telkens die een wat tydens huisgodsdiens gebid het vir mense buite ons kring. Ten spyte van ons verkeerde voorbeeld van gebede net vir ons eie behoeftes en sorge is Kosie die een wat bid vir siekes, dakloses, hulle wat nie kos en klere het nie. Veral ook vir die wat nie die voordeel van 'n gesin het nie.
Dankbaarheid:
Jesus leer ons ook om God te dank vir ons daaglikse brood en stel die voorbeeld onder andere by die eerste nagmaal. Die egtheid wat Kosie ook hierin die voorbeeld van Jesus naby ons gebring het blyk uit die volgende herinnering: Toe hy nog baie klein was ryg hy eenslag, in gebed, die dankies oor verskei dinge in, almal begin met "dankie lat". Wat die laaste een is kan ek nie presies onthou nie maar dit was iets soos: "Dankie lat liewe Jesus vir ons so goed sorg, hoor.. Amen." Net soos hy met ons praat ... hoor!
Vermaning:
Jesus leer ons om mekaar te vermaan. Dr Jan Woest kom in Pinkster 2004 te Tsumeb en verduidelik aan die hand van 2 Kor. 13:5-13 en Gal 5:13-18, dat vermaning Jesus se plan is om ons gehoorsaam, gefokus te hou. Kosie kon dit doen op 'n wyse wat nooit gepla het nie omdat sy motief nooit onder verdenking was nie. Dit was altyd duidelik dat hy vermaan omdat hy omgee. Ons is verantwoordelik vir mekaar sê die Bybel. Kosie het ons gewys dit kan gedoen word.
So skroom hy nie om sy Pa tereg te wys oor sy taal gebruik tot eetgewoontes nie. Op 'n keer tydens 'n geselligheid, en hy uit sy eie optree as kelner, praat hy die tannie aan dat sy nou genoeg wyn gehad het, natuurlik op 'n manier dat die tannie nie kwaad word nie. Toe sy steeds aanhou steek hy haar glasie weg! Op so 'n geleentheid bring sy nefie, toe so 2de jaar op universiteit, 'n vriendin na die geselligheid. Sy sit egter heeltyd tussen die kêrel en sy broer en hou albei se hande vas. Kosie wag sy kans af en oortuig haar, op 'n mooi manier, dat sy die kêrel-nefie se hart seer maak, om so te maak.
Hoewel van hierdie vermanings in vandag se tyd onnodig lyk, is dit gewoonlik omdat Kosie dinge raakgesien het, omdat hy ingestel was op mense en dus gewoonlik in die kol.
Lewe:
Jesus was tuis by tollenaar en sondaar. Hy het gedeel in die lief en leed van sy vriende. Hy het voluit gelewe. So het ons ook vir Kosie ervaar. Geen voorreg of plesier was vir hom somer net so nie. Elke stadium en lewens mylpaal het hy met oorgawe geleef en alles van harte geniet. Onthou ons nie sy lekker lag sulke tye nie.
Dr Ferdinand Diest skryf op 'n plek dat ons leef in 'n tyd van woord inflasie. Woorde het so baie geword dat dit hul waarde verloor het. Petrus het vir die Joodse raad gesê ons praat want ons kan nie anders nie. Was sy wêreld soos ons sin sou dit sekerlik nie so effektief wees nie. Woorde wek voorbeelde trek sê die spreekwoord en in vandag se tyd van woord-inflasie, is die voorbeeld net nog baie meer werd. Mits ons dit nie ook miskyk in die gejaag nie.
Amper het ons Kosie se voorbeeld misgekyk!, so terwyl en ten spyte van die feit dat ons wat die naaste aan hom was, heerlik gebaai het in die voordeel daarvan.
Om Jesus se voorbeeld en opdrag so te volg is moontlik, dit het Kosie ons kom bewys. Hy is egter nie al nie. Ook ons familie, vriende sy maats en die gemeenskap van Tsumeb het dit kom bewys, met al die omgee gebed en ondersteuning met sy heengaan.
Jesus het vir ons sondes gesterf, ons vrygemaak daarvan om slawe van sonde, verwerping, minagting en wreedheid, te wees. Jesus het ons daarby 'n nuwe riglyn gegee vir die lewe, self die voorbeeld gestel en ons sy Woord en Gees gegee, om ons te troos en hierin te lei.
Hierdie feit het vrugte tot gevolg. Baie, nee 'n menigte het dit getoon met meedeling in ons smart. Kosie het dit aan baie van ons getoon in sy lewe. Dit is dus moontlik, dit bestaan, dit word daagliks deur almal van ons ervaar. Ons is egter so gewoond daaraan dat ons dit nie sien vir wat dit is nie. Ons hou Jesus se voorbeeld en opdrag vir ons eie gedrag vêr. Met slim verskonings en slegte gewoontes kry ons dit reg om ongehoorsaam daaraan te wees.
Kom ons maak ons oë oop, kom ons sien dit raak en kyk hoe maklik dit is aan die hand van die voorbeelde om ons. Kom ons raak heilige offers met ons lewe na aanleiding van Rom. 12. Soos Kosie.
Deur die wat Kosie geken het.
Om mee af te sluit, 'n gediggie deur Kosie se ouboet, Duif Keyser
Ek wens ek kon vertel van die liefde van energie van dood.
Hy het die kuns bemeester die liefde gegee in nood
As een rou dan rou hy
en lank voor jy `ʼn traantjie stort is hy al lankal by.
Sy glimlag is `ʼn sonstraal sy lewe `ʼn tiekiedraai
Hy was `ʼn goeie seun, `ʼn goeie vriend, `ʼn gunsteling broer.
Nou is hy terug huis toe.
O God van lewe, hoekom nou
ek wou hom nog eenkeer in my arms vou.
En God glimlag met hom by sy sy
en sê: “Byt vas, my seun.”
Toe weet ek, hy het groter werk in die hemel
en kyk, hy wag vir my.

