Kosie Keyser 5/4/1990 - 16/5/2004

Hierdie ruimte kan gebruik word om u geliefdes te onthou. Hier kan ons behalwe woorde ook foto's van u geliefde plaas.
Kontak ons gerus om te help om u stuk te plaas by bestuur@netwerk-plek.org


Moderator: koos

Kosie Keyser 5/4/1990 - 16/5/2004

Postby koos » 04 May 2007, 20:46

In Herinnering.
Kosie se getuienis.
Image
Oor Getuienisse en Biografieë


Almal van ons het al kennis gemaak met getuienisse en biografieë. Getuienisse tussen ons gelowiges behoort van Jesus te wees en Hom duideliker te maak. Ongelukkig het dit meer kere 'n "bieg jy of brag jy" karakter. Biografieë weer, neig om mense te eer en gaan dikwels te vêr. Veral in ons tyd van idealisering van mense kan biografieë, van selfs iemand soos Dietrich Bonhoeffer, eer so bring dat dit amper begin teenspreek waarvoor die geerde gestaan het.

Image

Met die moeilikheid van hierdie soort van ding beweeg mens dus op dun ys. Almal het egter al 'n "biografie" van Jesus gelees of ten minste gehoor. Dit is mos wat die Evangelies is. Hoewel uit 4 hoeke gesien, klink dit tog vêr. Dit speel af in 'n tyd en kultuur wat ons maar sukkel om lekker agtermekaar in die kop te kry.

Dit voel my soms, ons is fluks om juis agter hierdie "vêrte", versigtig 'n rat voor ons oë te draai en telkens die lesse te hoor, maar dit vêrlangs te hou en nie regtig in te koop in die boodskap nie. Dan gebeur daar iets of iemand en iets daarvan word duidelik.

Kosie word gebore:
So gebeur dit toe met ons op 5 April 1990. 'n Seun word vir ons gebore, so half teen die beplanning en voorsorg in. Hier kry ons 'n baba wat teen ons ervaring met ons ander twee, ons nie 'n nag wakker hou nie. Hy slaap so baie dat ons telkens 'n veertjie of papiertjie voor sy neus moet hou om te sien of hy darem nog asemhaal.

Image

Toe hy begin mens word is hy die ene drukkies en soentjies en dierbaarheid en net hier begin dinge.

In die genoemde biografieë, die evangelies, lees ons hoe Jesus dinge leer en self doen:

Tyd, vriendelikheid, omgee:

Ons lees hoe hy tyd gehad het. Soos vir die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het. Onthou, die een wat aan sy kleed geraak het en gesond geword het. Ons lees dat Jesus te midde van die haas en nood waarheen Hy oppad is, eers gaan stilstaan, tyd gee en die vrou se storie hoor. "Is dit nie vriendelik van Hom gewees nie?" skryf Max Lucado.

Image

Daar is nog voorbeelde: Die slegte Samaritaanse vrou by die put, die verlamde wat nie hulp kon kry om hom in die bad te kry nie.

Ons lees hoe Jesus so omgegee het, saamgevoel het, dat hy selfs gehuil het met Lasarus se dood. Ons sien hoe hy hom ontferm oor blindes, kreupeles en uitgeworpenes soos Sageus die tollenaar en die owerspelige vrou.

Ons hoor hoe Hy leer dat ons moet omgee, in die storie van die barmhartige samaritaan, in Mat. 25, waar Hy sê dat in sovêr ons dit aan geringes doen ons dit aan Hom doen.

Duidelike voorbeeld en boodskap nê. Tog vêr en vreemd. Hoe vreemd is tollenaars, samaritane priesters, leviete ens.

Hier kom wys Kosie ons en ons het hom dit nie geleer nie, nie eers 'n waardige voorbeeld gestel in die verband nie. O ja miskien nog voor ons kinders, maar sê Jesus, daarin is ons niks beter as ongelowiges nie. Hulle doen dit ook. Nietemin uit sy kop uit kom doen Kosie juis dit.

As Fransa hom kleintyd in 'n winkelwaentjie stoot, val hy amper uit soos hy drukkies uitdeel, sonder aansien des persoons en vels. So hou hy aan tot in sy tienerfase aan die einde van sy kort lewe. Oom Len Kloot getuig as gevolg hiervan dat hy Kosie net een keer ontmoet en hy het sy hart geraak: "I met him once, and he touched me"

Op 'n keer is die Tukkie koor by ons op toer onder leiding van Prof. Petri Grabe, wat toe by ons tuisgaan. Tydens 'n ete, waarby klomp van die familie en vriende by is, merk Kosie, toe net drie jaar, dat die Prof na die tamatiesous bottel kyk, maar nie kans kry om daarvoor te vra nie. Hy klim terstond op die tafel en gaan haal die tamatiesous bottel vir die Prof. Die Prof is uiteindelik ook saam met ons Etosha toe en toe hy groet getuig hy juis hieroor: Julle het 'n besonderse kind hier. Moet dit nooit vergeet nie.

Voetewas:

In ons gesin is daar 'n afsku in inkopies doen, al is dit net om ma te ondersteun met hierdie werkie. Maak egter nie saak hoe lekker hy met maats speel en kuier nie, selfs as 'n tiener, sou sy ma hom nooit hoef te smeek om haar hiermee te help nie.

Van die kinders om hom en hul ouers getuig dat hy dit vir hulle moontlik gemaak het om aan te pas in die skool vêr van die huis af. Hy het groot moeite gedoen om juis die ongewildes, uitgeworpenes en die wat hartseer is, gemaklik en beter te laat voel. Hoewel hy goed kon onderskei en aandui welke gedrag van sy maats en ander kinders ongehoorsaam is, het hy homself weerhou om te oordeel of te veroordeel en juis daarom was hy ondersteuning en goeie invloed vir gewild en ongewild.

Uit sy kop uit, kom wys hy ons al die tyd wat Jesus bedoel. Sommer hier naby ons, aan eie lyf, bring hy Jesus se boodskap so ongemerk in ons gesin, familie, sy skool en gemeenskap in, dat ons dit eintlik nie eers merk nie.

Terug na Jesus - Voorbidding:

Jesus leer ons hoe om te bid en self stel Hy die voorbeeld wat ons in Joh. 17 het. Kosie was telkens die een wat tydens huisgodsdiens gebid het vir mense buite ons kring. Ten spyte van ons verkeerde voorbeeld van gebede net vir ons eie behoeftes en sorge is Kosie die een wat bid vir siekes, dakloses, hulle wat nie kos en klere het nie. Veral ook vir die wat nie die voordeel van 'n gesin het nie.

Dankbaarheid:
Jesus leer ons ook om God te dank vir ons daaglikse brood en stel die voorbeeld onder andere by die eerste nagmaal. Die egtheid wat Kosie ook hierin die voorbeeld van Jesus naby ons gebring het blyk uit die volgende herinnering: Toe hy nog baie klein was ryg hy eenslag, in gebed, die dankies oor verskei dinge in, almal begin met "dankie lat". Wat die laaste een is kan ek nie presies onthou nie maar dit was iets soos: "Dankie lat liewe Jesus vir ons so goed sorg, hoor.. Amen." Net soos hy met ons praat ... hoor!

Vermaning:
Jesus leer ons om mekaar te vermaan. Dr Jan Woest kom in Pinkster 2004 te Tsumeb en verduidelik aan die hand van 2 Kor. 13:5-13 en Gal 5:13-18, dat vermaning Jesus se plan is om ons gehoorsaam, gefokus te hou. Kosie kon dit doen op 'n wyse wat nooit gepla het nie omdat sy motief nooit onder verdenking was nie. Dit was altyd duidelik dat hy vermaan omdat hy omgee. Ons is verantwoordelik vir mekaar sê die Bybel. Kosie het ons gewys dit kan gedoen word.

So skroom hy nie om sy Pa tereg te wys oor sy taal gebruik tot eetgewoontes nie. Op 'n keer tydens 'n geselligheid, en hy uit sy eie optree as kelner, praat hy die tannie aan dat sy nou genoeg wyn gehad het, natuurlik op 'n manier dat die tannie nie kwaad word nie. Toe sy steeds aanhou steek hy haar glasie weg! Op so 'n geleentheid bring sy nefie, toe so 2de jaar op universiteit, 'n vriendin na die geselligheid. Sy sit egter heeltyd tussen die kêrel en sy broer en hou albei se hande vas. Kosie wag sy kans af en oortuig haar, op 'n mooi manier, dat sy die kêrel-nefie se hart seer maak, om so te maak.

Hoewel van hierdie vermanings in vandag se tyd onnodig lyk, is dit gewoonlik omdat Kosie dinge raakgesien het, omdat hy ingestel was op mense en dus gewoonlik in die kol.

Lewe:
Jesus was tuis by tollenaar en sondaar. Hy het gedeel in die lief en leed van sy vriende. Hy het voluit gelewe. So het ons ook vir Kosie ervaar. Geen voorreg of plesier was vir hom somer net so nie. Elke stadium en lewens mylpaal het hy met oorgawe geleef en alles van harte geniet. Onthou ons nie sy lekker lag sulke tye nie.

Image

Dr Ferdinand Diest skryf op 'n plek dat ons leef in 'n tyd van woord inflasie. Woorde het so baie geword dat dit hul waarde verloor het. Petrus het vir die Joodse raad gesê ons praat want ons kan nie anders nie. Was sy wêreld soos ons sin sou dit sekerlik nie so effektief wees nie. Woorde wek voorbeelde trek sê die spreekwoord en in vandag se tyd van woord-inflasie, is die voorbeeld net nog baie meer werd. Mits ons dit nie ook miskyk in die gejaag nie.

Amper het ons Kosie se voorbeeld misgekyk!, so terwyl en ten spyte van die feit dat ons wat die naaste aan hom was, heerlik gebaai het in die voordeel daarvan.

Image

Om Jesus se voorbeeld en opdrag so te volg is moontlik, dit het Kosie ons kom bewys. Hy is egter nie al nie. Ook ons familie, vriende sy maats en die gemeenskap van Tsumeb het dit kom bewys, met al die omgee gebed en ondersteuning met sy heengaan.

Jesus het vir ons sondes gesterf, ons vrygemaak daarvan om slawe van sonde, verwerping, minagting en wreedheid, te wees. Jesus het ons daarby 'n nuwe riglyn gegee vir die lewe, self die voorbeeld gestel en ons sy Woord en Gees gegee, om ons te troos en hierin te lei.

Hierdie feit het vrugte tot gevolg. Baie, nee 'n menigte het dit getoon met meedeling in ons smart. Kosie het dit aan baie van ons getoon in sy lewe. Dit is dus moontlik, dit bestaan, dit word daagliks deur almal van ons ervaar. Ons is egter so gewoond daaraan dat ons dit nie sien vir wat dit is nie. Ons hou Jesus se voorbeeld en opdrag vir ons eie gedrag vêr. Met slim verskonings en slegte gewoontes kry ons dit reg om ongehoorsaam daaraan te wees.

Kom ons maak ons oë oop, kom ons sien dit raak en kyk hoe maklik dit is aan die hand van die voorbeelde om ons. Kom ons raak heilige offers met ons lewe na aanleiding van Rom. 12. Soos Kosie.

Deur die wat Kosie geken het.

Image

Om mee af te sluit, 'n gediggie deur Kosie se ouboet, Duif Keyser

Ek wens ek kon vertel van die liefde van energie van dood.
Hy het die kuns bemeester die liefde gegee in nood
As een rou dan rou hy
en lank voor jy `ʼn traantjie stort is hy al lankal by.
Sy glimlag is `ʼn sonstraal sy lewe `ʼn tiekiedraai
Hy was `ʼn goeie seun, `ʼn goeie vriend, `ʼn gunsteling broer.
Nou is hy terug huis toe.

O God van lewe, hoekom nou
ek wou hom nog eenkeer in my arms vou.
En God glimlag met hom by sy sy
en sê: “Byt vas, my seun.”

Toe weet ek, hy het groter werk in die hemel
en kyk, hy wag vir my.
Last edited by koos on 09 May 2008, 16:19, edited 4 times in total.
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

Iemand soos jy....

Postby Andrea Hanekom » 05 May 2007, 12:00

(Red. - Kosie het gesterf in sy graad 8 jaar. Andrea was toe graad 11 en het die volgende jaar hoofmeisie van hul skool geword)

Iemand soos jy....(Opgedra aan Kosie Keyser)

As ek terug dink aan jou,
Kan ek net al die aangename gebeure onthou.
Al het ek jou nie baie goed geken,
Het jy van die begin af my hart gewen.
Jy’t altyd die positiewe beleef,
Iets wat ek nou in my lewe nastreef
Met jou glimlag breed,
Het ek geweet, jy’s iemand spesiaals wat ek nooit sal vergeet.
ʼn Spesiale vriend wat ek nooit wou verloor
En toe moes ek die slegte nuus hoor ...

God het jou weggevat,
En in jou plek is daar nou ‘ gat.
ʼn Holte gevul met herinneringe aan jou,
Oor jou gaan ek jare lank rou.
Hoekom is jy die gekose een.
Het ek by God geween....
Hoekom iemand wat so diep in ons harte inkruip,
Hy wat die dag met al twee hande gryp?
Hoekom ʼn bondeltjie liefde so jonk en onskuldig,
U is ons ʼn antwoord verskuldig!
God, U is dan in beheer,
Hoe kon U dit laat gebeur,
Hoekom het U dit nie gekeer,
Ek verstaan nie, liewe Heer!!!

Dis moeilik om dood te aanvaar,
Om finaal te weet jy is nie meer daar.
Maar my gemoed is gesus,
Want God het my belowe daar waar jy is,
Is ewige rus.
God pluk waarlik Sy mooiste blommetjies eerste af,
Het ek besef terwyl jy deur my gedagtes draf.
Ek weet nou verseker jy is veilig en gelukkig,
Want jy is by ons Ewige Vader, hoog verhewig.
Ek is daarvan oortuig dat ek jou weer sal ontmoet
E dan sal ek opmaak omdat ek jou nie kon groet.

Rus in vrede,
Jy is elke dag in my gebede ...

Deur Andrea Hanekom.
Last edited by Andrea Hanekom on 14 May 2007, 13:17, edited 2 times in total.
User avatar
Andrea Hanekom
 
Posts: 1
Joined: 05 May 2007, 11:30

'n Huldeblyk aan...

Postby Fransie Gerber » 05 May 2007, 12:35

(Red.- Fransie het hierdie opstel geskryf aan die einde van haar graad 10 jaar. Die opdrag van die Juffrou aan die klas was dat hulle ʼn huldeblyk aan enige iemand moet skryf. Twee en 'n half jaar na sy dood kies Fransie om van Kosie te skryf!)

ʼn Huldeblyk aan ...
Hierdie een rig ek aan jou my maaitjie wat nog altyd my beskermings-engel was behalwe dat jy seker nou al spierwit vlerkies bygekry het nadat jy aan Liewe Jesus se deur geklop het en ingelaat is.

Ek onthou hoe ek altyd vir myself gesê het: Kosie Keyser se ma het hom seker ook tussen die riete in ʼn mandjie gekry”, want hy is nes ʼn engel, my beskerming. Ek het altyd gewonder...

Van kleins af het ons al saam sandkastele langs die ou raserige see gebou, saam worsbroodjies geëet (ek onhou ek het altyd die worsie van sy broodjie vinnig uit gehaal en in myne gesit en as hy homself weer kon kry, sit hy met ʼn tamatiesousbroodjie in sy hand.) Hy het nooit kwaad geraak of dit teruggevat nie. Ons het saam gehuil die eerste dag in graad een: “Ons wil huis toe gaan, ons soek ons ma’s” Ons het saam trou – trou gespeel en dan wou hy my altyd ʼn soentjie gee, maar ek wou niks weet nie; “Maar in die flieks maak hulle dan ‘kiss the bride’ jy is tog dom.”

Hy was net soveel ‘vingers oud as ek,’ maar hy het altyd gewys wat was reg en verkeerd en ʼn duidelike verskil tussen goed en kwaad geleer. Hy was altyd daar vir my, hy het elke oomblik van my lewe saam met my deurgebring. Die dag toe my eerste kêrel my afgesê het in graad 7 het ek so gehuil, arme Kosie het maar net getroos en om die hartseer weg te blaas, soos ʼn donsveertjie deur die stormwind besluit hy om sy pa se groot reënjas aan te trek en te sê: “Toemaar huil maar, ‘Weatherman’ is hier” met ʼn onseker glimlag.

Ons was saam stout gewees en dit was seker al rede waarom hy nie toe al vlerke gehad het nie.

Ek onthou nog baie goed sy benoude stem, hoe dit sing in my oor omdat ek gewoond was daaraan om stout te wees: “Trap die briek bobbejaan, ons gaan een van jou pa se beeste stamp.” Terwyl ek dink hoe die wind deur sy hare waai sê ek: ”Kosie don’t fear Fransie is near, ek het alles onder beheer.” Die volgende oomblik is alles stil en ek dog Kosie het my saamgevat Hemel toe, dit is immers waar hy vandaan gekom het toe hy tussen die riete gevind was. Ek was verkeerd, toe ek sien twee groot bruin oë na my staar. Dit was Kosie wat my probeer wakker kry. Ek het net ʼn “black-out” gehad. My pa se kar het gevrek, nie in die pad nie, maar teen die dropperhek. Ek het geweet Kosie gaan my jammer kry en die skuld op hom vat, so toe dink ek by myself: don’t worry be happy” maar ....

Die dag het aangebreek, ek dog dit is ʼn duif toe is dit Jesus wat hom met die “lift” kom haal. Ek het net verbaas gestaan en kyk nadat Hy hulle beveel het om hom nie na die tweede vloer te neem nie, maar na die vloer met die naam Hemel. Ek het besef Jesus het hom net aan my geleen, dit is nou sy tyd, hy gaan nou sy vlerkies haal.

Kosie Keyser my beste vriend en God se pragtige engel. Ek sal jou nooit vergeet.
Last edited by Fransie Gerber on 14 May 2007, 13:16, edited 1 time in total.
User avatar
Fransie Gerber
 
Posts: 1
Joined: 05 May 2007, 11:29

Dood van ‘n Engeltiener: Kosie

Postby Karin » 07 May 2007, 21:11

(Red.- Karin is Kosie se Tannie, sy Pa se ousus.)

Vir Kosie: 16 Mei 2007

Dood van ‘n Engeltiener: Kosie

Die Groot Tuinier is besig met ‘n baie spesiale rangskikking in die voorportaal van Sy Hemelse Paleis.

Hy verkies om self sy blomme te pluk en dan te rangskik.

Die werk van Sy hande is voltooi – Hy staan bietjie terug en kyk dan mooi.

Ja, hier sien Hy die opening. So groot soos ‘n paar bosse sonneblomme.

Waar sal Hy nou so ‘n vrolike klompie sonlagblomme kry?

Hy kyk oor Sy aardse tuin en daar sien Hy die pragtige goudgeelsonvreugdeblommme.

Hy weet as Hy dit gaan pluk sal dit wees met smart en pyn.

Maar eendag mag dit wees met groter pyn en smart.

Wat moeder en vader nie sal kan verduur in hul hart.

Hy roep Sy kinder-bewakende engel en wys haar die sonneblomme.

“Meester wat van die aardse pyn gelaat?”

Die Meester antwoord: “Wees nie bekommerd, Ek sal hulle nooit verlaat”

Die engel gaan dadelik op haar sending.

Raak die vader, moeder, Duif en Gerrie saggies aan.

Sy weet haar Meester, die Groot Tuinier, maak nooit ‘n fout.

Saggies pluk sy die mooiste goue sonneblomme.Streel die blaartjies so sonskyngeel en weet vir haar Meester is dit soos goud.

Die rangskikking word voltooi, die sonneblomme pas perfek.

Pappa, Mamma, boeties en familie op aarde vol pyn en seer.

Maar die Liewe Heer versorg die harte net so teer.

Hy weet van seer, maar Hy weet ook van krag en bid en duisende aardse blomme wat hy vir ons skenk waar Kosie se sonneblomlag in skuil.

Sterkte.

Karin.
User avatar
Karin
 
Posts: 1
Joined: 07 May 2007, 20:59
Location: Witbank, RSA

My Hartplant

Postby natie » 29 Oct 2007, 12:00

Van: Natie, Kosie se tannie. Berusting en troos vir die familie so uit die natuur.

My Hartplant

`n Vrou van die buurt het die plant hier aangebring op 24 Mei 2004. `Baie sterkte vir julle en in die besonder vir jul familie` ( sommer so in die onderste gedeelte van `n Cokebottel) Sy het iets gesê van `uitplant`, ek het nie eintlik mooi gehoor nie. Ek wil nie `n plant hê nie! wat help `n simpel plant vir `n seer hart? `n Paar dae het die plant in die kantoor bly staan. Ek het dit geskuif na my opwaskamer, daar is darem beter kans dat iemand vir die plant sou water gee, ek kon ook nie heeltyd so in die plant vaskyk nie.

Die plant het seker partykeer water gekry, partykeer nie. Die stingel het al langer geword en die blare al minder, soos `n lang droë stok, so het my hart ook maar gevoel.
Met tye, as ons nie by die huis was nie, is die plant saam met die ander plante uitgedra na die garage, waar die bure sou water gee. Ek kon die plant mos darem ook nie weggooi nie.
Uit die Skrif, en Sondae in die kerk het ek vertroosting gekry. Die maande het verbygegaan, maar my trane het steeds maar vlak gesit.

Kon die tyd so verbygaan? al twee jaar.
Daar was sprake dat die Namibie-familie, Kaap se kant toe kom vir die troue,ons sal iets drasties aan die tuin moet doen.

Met die besigheid is ek bedags vas.
Met die kinders se bedrywigheid probeer ek kophou .
Met die waterbeperkings sukkel die grasperk en tuin om te oorleef.

Ons besluit om die grasperk kleiner te maak en klippies rondom te gooi.
Om die klippies uit die akkers te hou, pak ek randstene. Steen vir steen, werk, werk, werk. Ek besluit die leiklip-paadjie, langs die huis, moet òm die Amandelboom loop. Met die skuif van hierdie gewigtige plat grys klippe, voel ek soos Klara Viljee wat die sandduin voor haar huis geskuif het. Die pyn skuif bietjie na my rug en kniee toe.

(waarom gee die ver familie vir my skielik lewe? geboortelandsake?) Ek saag die Bougenvilla se onbeheerbare takke af, dat buurvrou dink ek het die hele boom uitgehaal. (ek moet darem bysê, net vir as dit egosentries begin klink, die hoeveelheid werk wat deur ou Marius se hande gaan, by die besigheid, is eintlik vir `n hele paar mense bedoel)

Plante word uitgehaal, en op ander plekke geplant. Die lang-stingelplant wat in die Cokebottel se onderste gedeelte staan, word langs die koejawelboom geplant. In die koelte sal dit hopelik makliker oorleef.

Skielik is dit vir my belangrik dat hierdie plantjie moet groei. Begin dit beter raak na meer as twee jaar? Bietjie mis word by die grond van die koejawelboom ingewerk. Ek begin vind dat tuin natspuit met die tuinslang, goed werk vir my.
Lente 2006, nuwe blaartjies maak hul verskyning aan die lang stingel!

Die jaareind bedrywigheid tref die besigheid.
Die kinders skryf eksamen. Laatnag sit ek en ousus met die gr 10 wiskunde om sin, cos en tan se vriende te word. Met die gr 5 Geskiedenis raak my spoegies dun vir Vasco en Diaz se seereise - die groen blare is sowaar daar.
Die vakansieplanne voor die troue, is op `n waglys, kan-op-nommer-99-laat-weet-basis.
Die admin van die Besigheid moet maar die ander nagte gedoen word, ek het ook nog nie die rok vir die troue gevind nie. - die blare raak groter.
Die tyd raak min. Kaste word tussendeur reggepak. Die gang, en ons kamer se mure word met `n verflap gewas. Die foto-collage word gedoen.
Die tuin word gereeld natgespuit. My plantjie is nie dood nie!
Hy is nie dood nie, hy Lewe! …vir ewig!
Dit is al Desember, Kersfees is om die draai, ek kyk weer van naderby: My hartpant het `n pienk blom!.............. my hart ook.

Laat julle harte ook blom in 2007
Natie
User avatar
natie
 
Posts: 1
Joined: 25 Oct 2007, 17:37

16 Mei 2008

Postby koos » 17 May 2008, 08:38

Kosie se onhou plekkie gister 16 Mei 2008

Image
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

16 Mei 2009 - Nog 'n jaar later

Postby koos » 15 May 2009, 23:04

Nog ‘n jaar is verby.
Die onthou bietjie vêrder ... al minder.
Dit was te min, te kort.
Mens is half bang dit raak weg.
Sal ons bly onthou? Dit is hoekom ons hierdie web plekkie en die sy hoekie in die huis ingerig het. (Fransa het dit vanjaar nog mooier gemaak)
Ons wil onthou, eintlik meer van hom hê.

Dit is hoekom dit so lekker is om te hoor hoe ander Kosie of iets van hom onthou. Selfs al lees hulle net hierdie stukke oor Kosie is dit al lekker. (1970 kere het mense dit al gelees tot nou toe!)

Maar mense gaan aan, hulle vergeet nog makliker. Niemand hou daarvan om pyn en hartseer te onthou nie, mens wil daarvan vergeet........ maar dan vergeet ons Kosie dalk ook.

So het ons ook maar vanjaar gemaak. By die foto’s en herinneringe toe oë, anderpad kyk of kyk en nie sien nie, verbygeloop. Ook maar bang om stil te staan en te kyk oor die seerkry, maar ons wil hom onthou!

Het ons iets geleer vanjaar of het tyd net vêrder afstand en vergeet gebring?

Miskien het ons nie vanjaar iets nuuts geleer wat ons help nie, maar is ons op ‘n manier herinner aan die eeue oue troos wat ons almal eintlik weet. Hier is iets daarvan:

1. Ons bestaan uit liggaam, siel en ‘n gees. Behalwe dat dit in die Bybel staan, maak dit sin as ons daaraan dink. Die gees is onsterflik, die siel en liggaam gaan in ‘n heelwat beter vorm opgewek word met die wederkoms. Vra my gerus oor die skrifgedeeltes, of lees wat CS Lewis in sy boek Miracles daaroor skryf. Dit is wonderlik om te weet dat daar iets is van Kosie wat nie dood is nie! (Die wetenskap kom so stadig by oor wat al lankal in die Bybel bekend is. Ek het vanjaar by die Universiteit van Johannesburg ‘n kursus begin waarin ek hiermee, te doen kry. So ek is reg met die verwysings uit die Bybel en ander nie teologiese bronne, vra my net per e-pos na bestuur@netwerk-plek.org. Terloops dit is nie ‘n kursus in teologie nie)

2. Die beste versekering hiervan (dat alles wat ons hier rondom ons sien nie die totale, storie is nie) is as ons God ervaar. Enige manier wat Hy Hom aan ons openbaar, is geweldige troos.

3. Daar is soveel smart hier op aarde. Vandag weer gehoor van ‘n ongeluk in die RSA waarin ‘n vrou en haar 4 kinders was. Net die ma het die ongeluk oorleef. Iemand het gesê, jy kla net oor jy nie skoene het nie totdat jy iemand sonder voete sien. Dit is egter nie die troos dat ander nog groter verlies en smart het nie. Dit is bevestiging dat ons lewe in ‘n gevalle wêreld waar dinge nie gebeur volgens ons planne nie en nog minder volgens hoe God dinge in gedagte gehad het. Gelukkig ken ons die einde van die storie. God se wil, sal geskied en sy plan sal geïmplementeer word.

4. Goeie nuus te midde van pyn en siekte is daar ook. Ouma (my ma) se stryd teen kanker is om in verwondering oor te staan. Al het ons ook hier te doen met siektes en toestande wat deel is van die gevalle wêreld waarin ons bly, is dit troos om te sien dat gebede verhoor word, wonderwerke gebeur. Daar is iets meer as dit wat ons van dag tot dag beleef en met ons sintuie kan waarneem.

5. Ander se liefde en ondersteuning dra mens deur. Wanneer ons mense ons ego’s ignoreer, bo dit uitstyg en ander begin raaksien en raak omgee, maak dit ‘n groot verskil. (hieroor is ook ‘n klomp goed in die kursus wat ek doen) Die meeste vrede geluk kom nie soseer wanneer ander ons dra nie, maar wanneer ons, dit vir ander doen. (Ek wonder soms hoe ek nog kan tyd mors om te broei oor my eie pyn as ek dan weet hoeveel verligting dit bring om my te bemoei met ander!)


Hierdie web plekkie is vir ons wat nog hier “onder” moet aangaan, wat besig is om voor te berei vir dieselfde pad. Op ‘n manier troos dit, help dit, al bring dit die lekker en die seer van onthou... en so help ons tog mekaar.

Hoe toevallig is dit? Die Bybelvers van die dag op 'n iGoogle "gadget" wat by my aan is, is Matt. 10:8
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

CS Lewis se oortuiging

Postby koos » 17 May 2009, 18:42

Van CS Lewis gepraat. Ek lees weer gister in die voorwoord van sy boekie “The Problem of Pain” dat hy persoonlik sy leser die volgende oortuiging kan bied:

… when pain is to be borne, a little courage helps more than much knowledge, a little human sympathy more than much courage, and the least tincture of the love of God more than all.


Mag ons almal van laasgenoemde in oorvloed beleef.
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

Vandag 16/5/2010 - 6 Jaar later

Postby koos » 16 May 2010, 12:10

Dit voel steeds soos sommer nou die dag wat die swaar ding gebeur het. Tog kry ons krag deur die liefde van familie en vriende wat onthou en ondersteun.

Dit is egter nie al nie. Net soos wat ons dink ons vooraf gereed gemaak is en regop gehou is deur die Een wat tegelyk bo alle dinge en tyd is en tog ook in ons is, word on nou nog deur Hom regop gehou!

Want hoe "toevallig" is dit dat die Bybel-versie "gadget" in iGoogle vandag 2 Tim 1:10 is?
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

Re: Kosie Keyser 5/4/1990 - 16/5/2004

Postby koos » 05 Apr 2011, 19:42

Vandag sou hy 21 geword het.... Dit meen van sy geboorte tot nou het ons hom maar twee derdes van die tyd gehad.
Ai tog.
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië


Return to Ons sal Onthou

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron