Naas du Preez 20/4/1935 - 28/4/2008

Hierdie ruimte kan gebruik word om u geliefdes te onthou. Hier kan ons behalwe woorde ook foto's van u geliefde plaas.
Kontak ons gerus om te help om u stuk te plaas by bestuur@netwerk-plek.org


Moderator: koos

Naas du Preez 20/4/1935 - 28/4/2008

Postby koos » 09 May 2008, 17:07

Naas du Preez 20/4/1935 - 28/4/2008

Image

Ons onthou hom as:
• Skoolhoof van WHS
• Inspekteur van Onderwys
• Hoof-uitvoerende beampte van Auas Motors
• Direkteur van die Nictus Groep
• ‘n Eggenoot, Pa en Oupa van formaat
• ‘n Dierbare Vriend
Ons eer sy nagedagtenis.

Van almal wat met hom te doen gehad het.
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 16
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

Huldeblyk

Postby Annaliese du Preez » 09 May 2008, 17:10

Huldeblyk

As student het ek vir Naas leer ken as ʼn baie standvastige, godsdienstige en gelowige jongman. Hy was destyds ʼn puik gimnas met baie talente, altyd vol grappies oor enige onderwerp denkbaar.

Toe hy in 1957 klaar studeer het aan UP, het hy as jong onderwyser vinnig geliefd geraak by sy leerlinge by Lyttelton Hoërskool in Centurion, Transvaal. Afrikaans, Geskiedenis, Sielkunde en L.O. was sy hoofvakke. Ek het sy vaste nooientjie geword en gou-gou het die huweliksklokkies gelui. Ons is op 26 Desember 1959 getroud.

Nadat armoede ons na groener weivelde laat soek het, is ons na die destydse Suidwes toe. As jong onderwyser het Naas as eerste onderwyser-sielkundige by Windhoek Hoërskool begin. Baie gou het hy diep spore in WHS se geskiedenis getrap, deur een na die ander bevordering te kry.

As skoolhoof was hy baie hardwerkend en omdat ons toe al 4 kinders (orrelpypies) gehad het, het ek hom dikwels beskuldig dat hy met die skool getroud was. Sy antwoord was altyd: “Ek doen dit vir jou en die kinders, my vrou!” Later jare sou ek eers die waarheid en waarde van sy woorde besef.

Nog later het ek ʼn groot wysheid van hom geleer, nl dat ʼn skoolhoof sy leerkragte as professionele mense moet waardeer en hulle nie moet voorskryf wat om te doen nie. Met so ʼn uitgangspunt het hy die maksimum lojaliteit van sy personeel, asook agting en ongelooflike werkywer verkry.

Toe hy as inspekteur van die Noorde aangestel was, het ons hom as gesin nog minder gesien. Hy was vir 2 weke uit op ʼn inspeksietog met ʼn Volkswagenkewer in Suidwes se hitte of koue. Nodeloos om te sê dat die voertuig sonder lugreëling was.

Intussen het ons 4 spruite groot geword, universiteit toe gegaan en begin trou. As onderwysbeplanner het Naas ook baie hard gewerk en die vrugte daarvan gepluk. Hy het ook intussen ʼn naweekboer by Malabar geword en menigmaal was die plaaslewe vir hom ʼn ontvlugtingsplek as probleme te veel geword het.

Toe Naas die onderwys verlaat het, het hy eers as redakteur van die destydse Suidwester gewerk, maar spoedig was hy meer geïnteresseerd in die motors wat by Auas Motors verkoop word. Nie lank nie, of hy het by die Nictusgroep aangesluit en daar sy gewig ingegooi.

Ons moes lank wag vir die eerste kleinkinders, maar nou is daar baie. Vir my was dit interessant om vir Naas te leer ken, eerstens as ʼn vriend, daarna as huweliksmaat, dan die pa van ons kinders en laastens die oupa van ons kleinkinders. Ons was in Desember 2007 reeds 48 jaar getroud.

Ons het Namibia in 2000 verlaat. Al ons mooiste en produktiefste jare het ons in Windhoek gewoon en gewerk. Dit was goeie tye en ons was Suidwesters in murg en been (al is ons nie daar gebore nie)

Ongelukkig het ʼn nare siekte geleidelik vir Naas beetgepak. Alzheimers se siekte slaan op ʼn skelm manier toe. Soms het hy vreemde dinge gedoen en ander kere was daar niks verkeerd nie. Die afgelope 2 en ʼn half jaar was hy in ʼn inrigting waar hy versorg is.

Longontsteking het hom beroof van die bietjie weerstand wat daar nog was.en as gevolg daarvan is hy op 28 April 2008 oorlede. Ons het as’t ware 3 maal afskeid geneem: Eerstens van die man en Pa wat ons geken het; tweedens van die vreemde persoon wat hy was toe hy inrigting toe is, en laastens was die finale afskeid waarvan hy nie eers bewus was nie.

Ons bêre die mooiste herinneringe aan hom in ons harte en sy woorde en wyshede sal ons altyd bybly.

Annaliese.
Annaliese du Preez
 
Posts: 1
Joined: 09 May 2008, 16:40
Location: RSA

Oom Naas Onthou

Postby Poekie » 15 May 2008, 13:41

Dit is met leedwese dat ek van Mnr du Preez se afsterwe in die Republikein gelees het. Dit vat my baie jare terug. Ons het die straat bo-kant hulle gebly. Bruhnstraat in Pionierspark, Windhoek.

My pa Hermann Mostert het Annelize se pottebakkerswiel vir haar “gebou”. Ons het saam met Mnr du Preez in sy groen stasiewa Opel skool toe en teruggery, later van jare. Mnr du Preez was die wonderlikste skoolhoof. Streng, maar baie regverdig. Ons leerlinge het vir hom net die grootste respek gehad. Iets wat my altyd sal bybly, is dat jy ‘n speld kon hoor val op die matte van die skoolsaal Maandae, wanneer hy die week geopen het met skriflesing en gebed.

Ek en my suster het altyd saam met hom gery. Hanneleen en Amanda Mostert. My ander drie broers was in ander skole gewees.

Annelize sal my pa baie goed onthou, maar hy is al op ouderdom 66 van ons weggeneem deur kanker, my ma Estina Mostert wat haar lewe lank ‘n verpleegster en later matrone was, het verlede jaar in Oudtshoorn ook aan kanker gesterf.

My simpatie aan Mev du Preez en familie.

Vriendelike Groete

Poekie(bynaam) Hanneleen Pretorius
Poekie
 
Posts: 1
Joined: 15 May 2008, 12:39


Return to Ons sal Onthou

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron