Ds. Johannes Bingle oor sy tweede verjaardag. April 2008

Nuus en inligting met betrekking tot Netwerk, sy lede of Afrikaner belange in die algemeen

Ds. Johannes Bingle oor sy tweede verjaardag. April 2008

Postby koos » 11 May 2008, 16:32

Deur Ds. Johannes Bingle

Lewe (ge)herfinansier uit die genadebank van God!
Brief by die tweede herdenking van my tweede verjaarsdag


Meelewende Geliefdes in die Here!

Ek skryf vandag ‘n brief uit my studeerkamer hier in die hoofstad van die wye wêreld (Windhoek). Die brief se woorde is hart-woorde, want dit is deur my hart geformuleer.

Baie van die vriende, familie en geloofsgenote wat hier lees is bewus daarvan dat ek sedert 5 Mei 2006 twee verjaarsdae per jaar vier: my geboortedagherdenking op 13 Januarie, wat op 13 Januarie vanjaar al sewe-en-vyftig keer herdenk is, en my oorplantingsherdenking op 5 Mei, wat D.V. op 5 Mei 2008 vir die tweede keer herdenk word.

Baie woorde en gedagtes het vir my in die laaste vier jaar besondere en verdiepende betekenis gekry. Die Here het my in dié tyd op ‘n ontdekkingsreis geneem:

• deur die polsende, warm-kloppende harte van mense
– in wekelange isolasie in klinies-koue hospitaalkamers…
• deur die binnekamers en bidkamers van gemeentes
– in eensame met-myself-wees in afsondering…
• deur die gemeensame liefde van ‘n wydstrek-kerkverband
– in ingeperkte grense van ‘n liggaam wat kragteloos taan…
• deur die ruimteskeppende uitreikgesindheid van ‘n gemeente en gemeenskap
– in benoudheid van worsterling oor die misterie van die Godsbestier…
• deur die heerlike troos van God se alkant- en oral-teenwoordigheid
– in ruwe ruimtes van donkerheid en niks…

Maar ek is nou veilig deur alles heen met die toegevoegde waarde van groot geestelike verryking; veilig deur loutering na hoop gelei. Dìt is die ontdekking wat deur die genade vir my oopgevou is: God en sy mense was en is oneindig goed vir my.

Hoe kan ‘n mens dit met ‘n ‘Dankie, ek waardeer dit’ na behore beantwoord?
Die woord dankie het skielik muggie-klein verdwerg en vertenger – dit kan nie draer van my gewigtige waardering wees vir dié grootse verryking nie.

Miskien moet ek die dankie-woord te hulp kom deur my opregte erkenning in ander woorde te giet.

Iets soos:

Ons weet alle mense se tyd is geleende tyd. Ons lewens en lewenstye is in die hande van die Here – sy vingermerke sit aan ons, soos ook alles ver en naby nog die vatmerke van die Vervaardiger (Skepper) vertoon.
Maar die tyd wat aan Hom behoort, bepaal Hy ook soos Hy wil in elke mens se bestaan.
Ek kan nou sê en sien dat my geleende tyd oor ‘n langer tydperk as wat mediese prognose voorsien (ge)herfinansier is (dit is genade wat lewe finansier)!

Die oorplantingsprosedure wat op 5 Mei 2006 op my uitgevoer is (beenmurgstamselle van ‘n onbekende donor ingeburger in ‘n murgdiep-sieke), blyk al meer ‘n sukses te wees. Met baie ander mense se bloed wat ek in oortappings ontvang het nou in my are, en met ‘n ander se murg in my pype, kan ek nou weer min of meer normaal funksioneer – wel steeds met die ondersteuning van dik dosisse medikasie. Die medikasie sal waarskynlik lewenslank deel van my bestaan wees. Maar daarsonder sou daar – menslik gesproke – nie ‘n lewenslank gewees het nie; dalk net ‘n ‘lewenskort’.

Ek bly elke dag onder die indruk daarvan dat èlke dag ‘n geskenk is uit die hand van die Verwekker en Gewer van lewe. Dit maak ‘n mens nederig en niks-klein voor God-groot vir elke dag se suurstof en lewenskrag. Godgegewe stamselle van die anonieme skenker is inderdaad besig om my lewe te ‘herfinansier’!

My pad deur loutering na hoop het ek vir myself (en vir wie wil weet) liedmatig so verwerk:

DEUR LOUTERING NA HOOP

Teks: J.P. Bingle 2006
Melodie: Mon Dieu, preste-moy l’aureille
– Guillaume Franc, Straatsburg 1545 (Ps. 86); Genève 1551


Heer, ek is bedruk, ek bewe….
En my moed wil my begewe.
Al my woorde wil verstil
as ek worstel met u wil.
Maar ek sal tot U bly nader!
U is God, my God en Vader!
Ewig is ek u besit.
Daarom sal ek sag bly bid.

Heer, ek is benoud, ek bewe….
Uit my vloei my krag, my lewe.
In my skroei die pyn van nood,
gluur en glim en dreig die dood.
Maar ek weet u hand is kragtig!
U is God, my God almagtig!
Ook al moet ek dieper daal,
sal u hand my hou en haal.

Heer, ek is beangs, ek bewe….
Hoe sal ek nog verder lewe?
Bleek is ek en broos en bloot,
in my skyn die donker dood.
Maar bo al my vrees en vrae
in die donker van my dae
hoor ek nog die lewenswoord
dat ek steeds aan U behoort.

Heer, sou ek dan verder bewe?
Nee, voor U, o God verhewe,
buig ek, bid ek en bely:
net U hand het my bevry.
Ja, ek sal nie verder bewe!
U is God, my God en lewe!
In u lig kan ek weer hoop,
breek my mooiste môre oop!

Al die blyke van meelewing, al die finansiële ondersteuning van die fonds wat vir my lewe in die lewe geroep is, al die voorbidding, bemoediging en liefde wat in my wankeldae onder my ingeskuif het, word hiermee nederig erken.

Ek sluit my hart-uit-brief af met die vreugde dat ek weer met hernude krag kan skryf:

Dienswillig die Uwe en die uwe


Johannes Bingle (oorgeplant)

Windhoek
08.04.08
User avatar
koos
Site Admin
 
Posts: 31
Joined: 30 Jan 2007, 14:48
Location: Namibië

Return to Nuus en Inligting

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron